Skip to product information
1 of 1

ISBN: 9780639786407 | Published: December 13, 2023 |

Verveertaal

Verveertaal

Regular price R 150
Regular price Sale price R 150
Out of print
VAT included.

Dispatch within 1–3 working days

'Ilse van Staden se verveertaal (2023, Imprimatur) is haar vyfde digbundel. Die bundeltitel kan in twee dele verdeel word: verveer en taal. Soos ook op die omslagontwerp (Van Staden self se handewerk) geïllustreer, word die voëlmotief ingespan om iets te sê oor die verandering en vernuwing van taal. Taal word ondersoek as die merker van identiteit en komvandaan, waarvan laasgenoemde se kompleksiteit veral beklemtoon word deur die beeld van voëls as “swerwende [...] en blywende bewoners van die aarde en die lug” (agterplat van verveertaal). Dis daarom gepas dat temas soos ontheemding, migrasie en tuiswording onder die loep geneem word in die bundel.

Die gedig ‘op telefoondrade’ (28) staan uit in verveertaal. In hierdie gedig word nagedink oor die gesprekke wat duiwe aanhoor wanneer hulle op telefoondrade sit soos “God se geveerde spioene / wat ons doen en late dokumenteer”. Die spreker kom in die wending van hierdie gedig tot die slotsom dat

[...] miskien is dit bloot die vibrasies
van ons onverstaanbare gesprekke
die tintelende klankgolwe ongeïnterpreteer
’n trilling van iets numineus
wat hulle na dié uitkykposte trek
en gaan sit voëls sonder voorbedagte rade
op telefoondrade

Hierdie gedig dien as wekroep vir die selfvoldane mens wat alewig behep is met die eie ek. Die spreker se woorde herinner ’n mens daaraan dat hierdie wêreld nie bloot deur mense-oë besigtig word nie en dat die wesens met wie ons ’n leefwêreld deel hulle eie perspektief en prerogatief het.

Nog ’n gedig wat my aandag getrek het, is ‘om te veer’ (31). Om te werk met en in taal, word gelykgestel aan die vlug van “derduisende voëls” – ’n lieflike metafoor vir die agentskap wat taal op sigself geniet en die dikwels gestruktureerde chaos, oftewel “gekruis en -dwars”, van hierdie medium. Hierby sluit ’n gedig soos ‘om te (t)aal’ (35) ook mooi aan. Die spreker meen: “om te taal / is om te vis / vir die is-essensie”. Die werk van die skrywer word dus gesien as die soeke na betekenis, om die ervaring van menswees in soveel woorde vas te vang.

Terwyl die bundel konseptueel prikkelend is, verloor die uitvoering my plek-plek. Vir sommige gedigte word vertalings aangebied, maar nie vir almal nie. Die meeste gedigte beskik oor ’n sterk metrum en ’n rympatroon wat natuurlik vloei, en dit lees gemaklik, maar by gedigte soos ‘winterreën’ (34) waar die “hemel” bloot beskryf word as “één groot grysblou niks”, vra ek my af: Wat wil die digter hiermee sê?' - — Elzanne Coetzee - Klyntji

View full details