ISBN: 9780798131070 | Published: January 1, 1993 |
Inteendeel (81)
Inteendeel (81)
Cannot be ordered — this title is out of print
Couldn't load pickup availability
RAPPORT TOP 100 - NOMMER 81
Dit is Desember 1739. In die Donker Gat van die Kasteel ontboesem die terdoodveroordeelde rebel Estienne Barbier sy verhaal aan 'n ontsnapte slavin met wie hy die skandelikste nag van sy hele lewe deurgebring het. Ek is dood; jy kan nie lees nie: dié sal (daarom) nie 'n brief gewees het nie.
Dit is die kleurryke verhaal van 'n Franse soldaat (as hy ooit 'n soldaat was), wat in Holland sy gesin in die steek laat (as hy ooit getroud was), en in diens van die VOC (of miskien as verstekeling op skip?) na die Kaap kom waar hy baie gou met die korrupte owerhede bots. Te voet (of miskien in 'n tamboer met vlerke?) ontsnap hy uit die Kasteel om 'n rebellie van burgers op die been te bring. Maar wie is hierdie Estienne Barbier eintlik? Wie pen op papier sit, lyk dit my, lieg.
Agter sy versinsels word stadigaan 'n patroon blootgelê, bepaal deur drie reise wat verband hou met die omswerwinge van die ridder Don Quixote: 'n reis in diens van die Kaapse gesagvoerders, vir wie hy 'n joernaal skryf, onder meer oor die diere wat hulle teëkom (leeu, olifant, renoster, eenhoring, hippogrief); 'n reis saam met 'n groep wettelose boere na die land van die Houzouanas (of is dit Monomotapa?); en dan 'n derde reis om skuld te gaan bely en boete te doen teenoor dië wat nog altyd die spit afgebyt het. Ons het alles van mekaar nodig. Ek was by te veel moorde teenwoordig.
Sonder vergiffenis kan dit nie end kry nie. Komies, vindingryk, buitensporig, gewelddadig, nadenkend, romanties, roekeloos, speels, doodernstig. Dit alles is dié pikareske roman oor 'n skelm, 'n verleier van vroue, 'n fantas, 'n veronregte, 'n man wat kans sien om Inteendeel te sê vir alles wat 'n mens se menslikheid bedreig. Dit is seker die mees radikale vernuwing in Andrë P. Brink se loopbaan as skrywer.
Author André P Brink
Author RAPPORT100
Share
