Skip to product information
1 of 1

ISBN: 9780949976932 | Published: May 15, 2017 | Paperback

Poort 2017

Poort 2017

Author:Poort
Author:SAAWK
Regular price R 120
Regular price Sale price R 120
Out of print
VAT included.

Dispatch within 1–3 working days

Die Poort-kompetisie is reeds in 1970 ingestel om die skeppende gebruik van Afrikaans onder die senior skoolgaande jeug aan te moedig. Een van die heel eerste persone wie se werk in die eerste Poort verskyn het, was die gerekende digter, Antjie Krog, vanjaar se wenner van die Hertzogprys vir Poësie. Die Poort-kompetisie is vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns van besondere belang, want die pryswenners en finaliste van nou is na alle waarskynlikheid die skrywers van môre. Vir jare reeds trek die kompetisie inskrywing van skole reg oor Suid-Afrika; toenemend van leerders wat nie Afrikaans as huistaal het nie. Van hulle begin ook reëlmatig pryse verower.
Die beoordelaars was vanjaar soos gebruiklik kundige vakmense: die poësie is beoordeel deur dr. Daniel Hugo (vryskut-vertaler en kritikus) en prof. Tom Gouws (digter en resensent) en die beoordeling van die prosa was die verantwoordelikheid van prof. Thys Human (Hoof: Vakgroep Afrikaans en Nederlands) van die Noordwes-Universiteit en prof. Bernard Odendaal (Hoof van die ATKV-skryfskool) van die Noordwes-Universiteit. In hul kommentaar is hulle opgewonde oor die opvallende verskeidenheid van die inskrywings en veral van die besondere kwaliteit, kreatiwiteit én tegniese vermoëns van die jong skrywers en digters.
Die tien finaliste van hierdie kompetisie het vanjaar, soos byna al gebruiklik begin raak het, 'n Skryfskool by die Universiteit van die Vrystaat bygewoon; die aanbieders was prof. Hennie van Coller en dr. Alexander Strachan, terwyl prof. Henning Pieterse en dr. Anthea van Jaarsveld (die organiseerder) die skryfstukke beoordeel het. Hulle was almal eenstemmig oor die entoesiasme en talent van die deelnemers. Die Hertzogprys lê dalk nog in die verskiet, maar in baie gevalle is publikasie van gedigte of prosa in die nabye toekoms 'n waarskynlikheid.
Uit 'n opname van die jaarlikse wenners blyk duidelik dat bepaalde skole gereeld wenners oplewer. Dit is meestal te danke aan knap, en veral passievolle onderwysers. My hartlike dank aan hulle almal wat Afrikaans laat leef. Ook 'n hartlike dankwoord aan die kundige beoordelaars en die Akademie-personeel. Maar veral aan mev. Ina van Schalkwyk wat soos gebruiklik die enorme organisasie met groot bekwaamheid behartig het.
H.P. VAN COLLER
Voorsitter van die Letterkundekommissie

Author Poort

Author SAAWK

View full details