ISBN: 9780949976963 | Published: May 15, 2019 | Paperback
Poort 2019
Poort 2019
Dispatch within 1–3 working days
Couldn't load pickup availability
Die Poort-kompetisie is reeds in 1970 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel. Die doel daarvan was om senior hoërskoolleerlinge aan te moedig om skeppende werk (veral poësie en prosa) in Afrikaans te skryf.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is vanjaar 110 jaar oud en hierdie verjaarsdag word luisterryk gevier met 'n gedenkpublikasie. In 2017 was dit ook die eeufees van beide die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (wat die reëls vir die spelling van Afrikaanse woorde neerlê) én die Hertzogprys vir letterkunde, steeds die mees prestigieuse van al die Afrikaanse letterkundepryse. Hoewel die Akademieraad amptelik pryse goedkeur en toeken, word hierdie hoogste liggaam van die Akademie met betrekking tot die letterkundepryse deur die Letterkundekommissie geadviseer. Tans bestryk die letter- kundepryse byna die hele literêre spektrum: van kinder- en jeugliteratuur, niefiksie en volwasseneliteratuur tot by literatuurwetenskap en literêre kritiek.
Die beoordelaars was vanjaar, soos gebruiklik, kundige vakmense: die poësie is beoordeel deur dr. Daniel Hugo (vryskut-vertaler en kritikus) en prof. Hein Viljoen (letterkundige, Noordwes-Universiteit), terwyl die prosa beoordeel is deur prof. Thys Human (letterkundige, ook verbonde aan die NWU) en dr. Bibi Burger (dosent aan die Universiteit van Pretoria). In hul kommentaar is hulle opgewonde oor die opvallende ver- skeidenheid van die inskrywings en nie net oor die besondere kwaliteit, kreatiwiteit én tegniese vermoëns van die jong skrywers en digters nie. Ook hulle goeie begrip van (genre-)verwagtings en -konvensies is uitgelig. Vanjaar se wenners, Dyllan Niehaus (Hoërskool Menlopark, Pretoria), met sy gedig 'Aan my vrye vers', en Lani de Beer (Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein), met haar kortverhaal 'Voor ek vergeet', het die keurders beïndruk.
Die tien finaliste van hierdie kompetisie het vanjaar, soos byna al gebruiklik begin raak het, 'n skryfskool by die Universiteit van die Vrystaat bygewoon. Vanjaar is die Skryfskool wat ek byna 'n dekade gelede begin het, georganiseer deur dr. Joanita Erasmus-Alt. Die aanbieder was vanjaar prof. Henning Pieterse, hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat en wenner van verskeie Akademiepryse, waaronder die Hertzogprys. Ek en dr. Anthea van Jaarsveld (Departement Drama- en Toneelkuns, UV) het die beoordeling van die gedigte en kortverhale behartig. Die Hertzogprys lê vir alle pryswenners dalk nog in die verskiet, maar in baie gevalle is publikasie van gedigte of prosa in die nabye toekoms 'n waarskynlikheid.
Die Akademie het 'n kompetisie onder hoërskoolleerders gehou om 'n wenner van die nuwe baadjie vir Poort aan te wys. U sien die resultaat hier en ek hoop u vind die ontwerp van Chrizelle Strydom (Hoërskool Upington), nes ek, besonder treffend.
H.P. VAN COLLER
Voorsitter van die Letterkundekommissie
Share
