ISBN: 9781485311713 | Published: October 15, 2020 | Paperback
Mal Hansie en ander verhale
Mal Hansie en ander verhale
Dispatch within 7–14 working days
Couldn't load pickup availability
Audrey Bettie Blignault (née Swart) is op 6 Julie 1916 op Bredasdorp gebore. Sy matrikuleer in 1933 op dié dorp en gaan studeer Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy behaal 'n MA-graad in Afrikaans en Nederlands en 'n Sekondêre Onderwysdiploma. In 1940 begin sy onderwys gee op Wellington en later Stellenbosch. In 1945 word Blignault die redakteur van Die Huisvrou en later is sy redakteur van Die Naweekpos. Sy het ook sedert 1946 die SAUK se Vrouerubriek-program behartig en sedert 1950 was sy 'n rubriekskrywer vir Sarie. In 1955 verskyn haar eerste boek, In klein maat: uit die dagboek van 'n vrou, 'n keur van haar beste bydraes aan Sarie tot op daardie tydstip. Blignault ontvang die Eugène Marais-prys in 1961 vir In klein maat en Die vrolike lied. Oor die jare verskyn daar elke paar jaar so 'n keur uit haar rubrieke, altesaam tien. Sy beywer haar oor dekades vir die bevordering van leeskringe landwyd. In 1965 word sy met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon vir Met ligter tred. Sy ontvang 'n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch, die Italiaanse Adelaide Ristori-gedenktoekenning vir haar kulturele bydrae, asook 'n Dekorasie vir Voortreflike Diens van die regering in 1982. Blignault is op 1 Oktober 2008 in Kaapstad oorlede. Audrey Blignault: uit die dagboek van 'n vrou wat in 2009 by Tafelberg verskyn, is 'n “outobiografie” saamgestel deur haar dogter, Marié Heese.
In 'n bestek van veertig jaar het Audrey Blignault tien bundels essays gepubliseer - van In klein maat in 1955 tot Pas op vir Jantatarat in 1979. Boeke wat wyd aanklank gevind het. Want hulle “is doepa vir 'n dikbek; vonk vir 'n vaal dag; laai 'n mens opnuut vir die avontuur van die lewe, wat nie ver is nie, maar in en rondom jou” (Berta Smit).
In Die Blye dae van 1965 verskyn die eerste volwaardige vertelling tussen die essays: “Mal Hansie”. Daarna word dié soort tekste talryker, veral in Die plesierboom (1967) en Die rooi granaat (1970). Mal Hansie en ander verhale bied vir die eerste keer hierdie gewilde en ontroerende vertellinge in een band. Dit is 'n volwassene wat veral terugkyk op haar jeug en dan 'n kind aan die woord stel: 'n meisietjie wat nie kan aanvaar haar oupa is dood nie, wat 'n baie ongeseënde Kersfees beleef, of deur skuldgevoelens geteister word toe 'n pestilensie van 'n buurseun hom byna morsdood uit 'n pruimboom val. Die kind ervaar gesinsverbrokkeling, liefdesarmoede en die wanhopige verset van 'n onvriendelike oom teen ouderdom en aftakeling. Maar ook die verwondering wanneer 'n seun op 'n reënerige oggend so anders en belangrik vir haar word.
Dis verhale wat, in Audrey Blignault se woorde, vertel “van die enigste spoor wat nie vergaan nie - die spoor wat een mens laat op die hart van 'n ander”.
Author Audrey Blignault
Share
