ISBN: 9781485315766 | Published: February 27, 2025 | Paperback
Asindeton
Asindeton
Dispatch within 1–3 working days
Couldn't load pickup availability
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (s.v. 'asindeton') verskaf die volgende twee betekenisonderskeidings vir die taalkundige term asindeton:
1 Stylfiguur wat bestaan in die weglating van die neweskikkende voegwoord(e) tussen woorde of sinne waar 'n mens dit gew. verwag, en waardeur die segging dikw. aan kernagtigheid, lewendigheid, spanning en krag win, bv. in die volgende: 'Die trekker met sy roer, sy os, sy wa, sy Boek wat in 'n binneland sy dure vryheid soek' (Totius). 2 Gemis aan samehang tussen volsinne; onverbondenheid.
Dr Amanda Marais beskou die gedig 'Opruiming 9' as 'n uitstekende voorbeeld van die 'werking van die asindeton binne bundelverband, maar ook die teenstrydig-magiese krag van die kreatiewe produk':
Opruiming 9
Verroeste sleutels met waterpype wat lek:
'n double entendre, die digter in hoek ge-.
Dié opruiming word nou 'n opryming.
What is divinity if it can come
only in silent shadows and in dreams?
vra die digter van Hartford, Connecticut.
Ons bly hom 'n antwoord skuldig;
'n kommapunt wat verbind en skei,
eerder as 'n uitroep of finale punt.
Ons, die kollektiewe sprekers, praat
teenstellend, sinesteties, metafories:
in mý komvandaan staan dit opgeteken.
Inperkings, beurtkrag, reise ópgeskort,
word 'n binnewaartse soektog, dalk
'n horror vacui in hierdie geslote baan?
Mirakel of muse? Inspirasie of dwinglandy?
'n Voortplantende metafoor genereer
tussen vastelande en tale 'n vingeralfabet.
In so 'n cul-de-sac gaan die vers oop,
'n stuwadoor én dolosgooier, 'n oksimoron.
Kortsluitings uit taal se simboliese tyding.
Joan Hambidge kan as een van die belangrikste digters van ons tyd beskou word. In hierdie bundel bou sy voort en bied 'n vernuwende blik op bekende temas uit haar oeuvre: reis, familieverbintenisse, verlies en die aard van poësie. Sy tree ook in gesprek met internasionale en Suid-Afrikaanse sleuteldigters en -figure.
Volgens prof. Louise Viljoen is hierdie bundel veral van belang vanweë die perspektief waaruit dit geskryf word: 'Daar word naamlik teruggekyk oor die eie lewe (en dié van ander) en tegelykertyd verantwoording gedoen en bestek opgeneem.'
Author Joan Hambidge
Author SAAWK
Share
