ISBN: 9781776093380 | Published: July 4, 2022 | Paperback
Hoerkind
Hoerkind
Dispatch within 7–14 working days
Couldn't load pickup availability
In Hoerkind vertel Herman Lategan sy lewensverhaal uit die hart uit, sonder doekies omdraai. Hy is een warm Februarienag in 1964 in 'n losieshuis in Kaapstad verwek - buite die eg. Van jongs af het hy soos 'n weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense wat die lewe op onvaste voet betree het, van die een stel hande na die ander aangegee. Op 13 beland hy in die kloue van 'n geslepe pedofiel, 'n bekende Afrikaanse koerantman in daardie jare. Pas na sy 18de verjaarsdag, wanneer sy molesteerder met hom klaar is, word Herman sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai. In sy tienerjare bevriend hy Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J. Toerien en Casper Schmidt. Ná skool doen hy sy diensplig, maar word oneervol ontslaan en kom hy in New York aan, waar hy vir Andy Warhol op straat agtervolg en met 'n “smorgasbord van eendagsvlinders” kattemaai. Terug in Suid-Afrika maak Herman opgang as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis. As volwassene voer hy 'n stryd met drank en dwelms en is 'n ruk lank haweloos. En vir menige werkgewer word hy die nagmerrie wat hulle die ergste vrees.
Hoerkind is 'n aangrypende relaas oor verlies én oorwinning wat jou sal laat lag, en jou hart 'n paar keer breek. Jy sal jou kop skud oor die wreedheid van 'n wêreld waar mense aan mekaar uitgelewer is, maar jy sal verwonderd staan oor die omvang van goedheid, juis omdat mense op mekaar aangewese is.
As 'n outobiografie is die boek met verbasende openhartigheid geskryf en geen doekies word oor die skrywer se persoonlike lewe of gay-wees omgedraai nie. Verskeie bekende en selfs beroemde figure uit die media- en vermaaklikheidswêreld maak hul verskyning in die boek wat meesleurend, hoogs vermaaklik en kompromisloos eerlik is.
Oor die jare skryf Herman vir oor die 50 tydskrifte, koerante en webblaaie, onder meer Vogue Entertaining + Travel, Time Out, House and Leisure, Cape Style, Mail & Guardian, Vrye Weekblad en Rapport. Sy rubrieke is in
twee bundels byeengebring: Binnekring van spookasems en Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse, en 'n handvol gedigte en kortverhale het ook verskyn. Herman het vir vyf jaar vir e.tv gewerk en vir 'n dekade insetsels vir etlike radiostasies soos FMR en Cape Talk gelewer.
Author Herman Lategan
Share
