ISBN: 9789000041718 | Published: December 5, 2024 | Paperback
Poort 2024
Poort 2024
Dispatch within 1–3 working days
Couldn't load pickup availability
'Die gedigte en prosastukke wat in hierdie bundel opgeneem is, is 'n keur uit die skeppende bydraes wat senior hoërskoolleerders vir die POORT-kompetisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingeskryf het. As 'n mens deur die eerste vyf uitgawes blaai (wat aanvanklik tweejaarliks verskyn het), kom 'n mens af op die name van Antjie Krog (1970), Marlene van Niekerk (1972), André Letoit (1972), Riana Scheepers (1974), Koos Prinsloo (1976) en Daniel Hugo (1978) (om maar enkeles te noem).
Vanjaar was die beoordelaars weer kundige vakmense: prof. Hein Viljoen en dr. Ilse de Korte (albei van die Noordwes-Universiteit) het die poësie beoordeel, en me. Teneal Apollis (van die Universiteit Pretoria) en prof. Thys Human (ook van die NWU) die prosa.
Die wenner van die poësie-afdeling is Mila van Niekerk (wat verlede jaar die prosa-afdeling gewen het) van die Hoërskool Outeniqua in George met haar gedig 'Sonskerm'. 'Sonskerm' beskryf op die oog af net drie gewone strande, maar dit dui ook die koers in die gedig aan: op onskuld volg wankelende vertroue en dan onsekerheid of hoop oor die toekoms. Met min woorde maar met beelde, herhalings en evokatiewe name roep die digter hierdie ryk en ingewikkelde emosies op sonder om hulle ooit direk naam te gee.
Die wenner in die prosa-afdeling is Aletta Smit van die Afrikaanse Hoër Meisieskool met haar interessante herskrywing van die bekende verhaal 'Racheltjie de Beer'. Aletta Smit plaas nie vir Racheltjie nie, maar haar broer en sy gewetenswroeging sentraal in die verhaal. Daardeur slaag sy behendig daarin om die leser se verwagtings (maar ook sy/haar vooroordele en voorbehoude ten opsigte van die oorspronklike verhaal) op verrassende wyse te ondermyn.
Namens die Letterkundekommissie bedank ek graag al die beoordelaars en almal by die Akademiekantoor, veral me. Sanita Meyer, sonder wie se insette hierdie kompetisie nie sou kon plaasvind en hierdie publikasie beslis nie die lig sou sien nie. Ons bedank ook vir me. Maroné van Veijeren wat tans 'n internskap by die Afrikaanse Wikipedia voltooi as taalpraktisyn vir haar administratiewe hulp in die samestelling van die bundel. Ons is ook baie dank verskuldig aan al die Afrikaansonderwysers wat weer eens hulle leerders besiel en begelei het om aan die kompetisie deel te neem.
As deel van die POORT-kompetisie lê senior hoërskoolleerders ook ontwerpe voor vir die voorblad van die POORT-bundel. Vanjaar pryk vir die tweede keer 'n treffende wen-ontwerp deur Marlize Theron van die Hoërskool Sentraal in Beaufort-Wes op die voorblad.'
Prof. Hein Viljoen
Share
