Skip to product information
1 of 1

ISBN: 9789000041725 | Published: May 15, 2023 | Paperback

Poort 2023

Poort 2023

Author:Poort
Author:SAAWK
Regular price R 120
Regular price Sale price R 120
Out of print
VAT included.

Dispatch within 1–3 working days

'Die gedigte en prosastukke wat in hierdie bundel opgeneem is, verteenwoordig 'n keur uit die skeppende bydraes wat senior hoërskoolleerders vir die POORT-kompetisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingeskryf het. Dié kompetisie trek jaarliks inskrywings van skole reg oor Suid-Afrika, Namibië, en toenemend van leerders wat nie Afrikaans as huistaal het nie.
Dat dit vanuit die staanspoor 'n goeie belegging was, blyk onder meer daaruit dat baie van die hoërskoolleerders wie se werk in die POORT-bundel opgeneem is, later self gepubliseerde skrywers geword het. Blaai 'n mens byvoorbeeld slegs deur die eerste vyf uitgawes (wat aanvanklik tweejaarliks verskyn het), kom 'n mens op die name van Antjie Krog (POORT 1970), Marlene van Niekerk (POORT 1972), André Letoit (POORT 1972), Riana Scheepers (POORT 1974), Koos Prinsloo (POORT 1976) en Daniel Hugo (POORT 1978) af (om enkeles te noem).
Soos in die verlede, was die beoordelaars vanjaar weer kundige vakmense: die poësie is beoordeel deur prof. Hein Viljoen en dr. Ilse de Korte (albei van die Noordwes-Universiteit), terwyl die prosa beoordeel is deur me. Lenelle Foster (van die Universiteit Stellenbosch) en prof. Thys Human (ook van die NWU). Vanjaar is die wenner in die poësie-afdeling J.D. Carr (Hoërskool Upington) met sy gedig 'v-e-r-l-i-e-f'. Carr, wat verlede jaar die wenner in die prosa-afdeling was, het die beoordelaars veral beïndruk met die wyse waarop hy deur 'n besonder fyn taalspel 'n emosie vol teenstrydighede onder woorde gebring het. In die proses het hy daarin geslaag om 'n oeroue tema van die poësie, naamlik die liefde, op 'n verrassende en vars manier te belig.
Die wenner in die prosa-afdeling is Mila van Niekerk van die Hoërskool Outeniqua met haar skets 'My grootste vrees'. Wat Van Niekerk se inskrywing laat uitstaan het, is die eenvoud, eerlikheid en gefokusde opbou daarvan. Aan die hand van baie konkrete en herkenbare voorbeelde besin sy uiteindelik oor die onvermydelikheid van menslike verganklikheid en die verlies aan lewenskrag in die algemeen.
Ons wil graag 'n spesiale woord van dank en waardering rig aan die al beoordelaars en aan almal by die Akademiekantoor, veral me. Sanita Meyer, sonder wie se insette hierdie kompetisie nie sou kon plaasvind en hierdie publikasie beslis nie die lig sou sien nie.
Deel van die POORT-kompetisie is om 'n voorblad vir die POORT-bundel te ontwerp. Vanjaar pryk Marlize Theron van die Hoërskool Sentraal in Beaufort-Wes se treffende wen-ontwerp op die voorblad. Dit is die Letterkundekommissie se opregte wens dat die leerders wie se werk in hierdie bundel opgeneem is, uiteindelik gepubliseerde (en, ja, selfs bekroonde) skrywers sal word.'
PROF. THYS HUMAN
Lid van die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Author Poort

Author SAAWK

View full details